GELUK MONNAS, maar…
Sunday, July 24th, 2011Monnas is die Goue Leeuskampioene in die Makroskole-afdeling wat betref die o/15, o/16 & Eerstespanliga. Florries se o/14-span is egter vandag Hoërskool Florida se trots – hierdie kannetjies voorspel ‘n blink toekoms vir ons rugby: hulle is die 2011 Goue Leeuskampioene! Baie geluk.

Wat die eerstespan betref is Oubaas Markotter se woorde dat die telling op die telbord die laaste sê het vandag verkeerd bewys deur ‘n ongelooflike manmoedige en besielde 1e span. Die telling van 20 – 11 in Monnas se guns vertel nie naastenby van die angs by Monnasondersteuners en –afrigters nie. Met die telling op 13 – 6 in Monnas se guns het hulle die wedstryd eers enkele minute voor die einde van die wedstryd en voor die briljantste stukkie spel van die dag, toe skrumskakel Ruhann Kruger gesorg het vir ‘n individuele moment van Florrie Magic, beklink. Die telling vertel nie van minstens drie/vier keer wat Florries eers enkele sentimeters van die doellyn af gestuit kon word nie, van gebiedsvoordeel nie, van verbroude skopwerk en kanse nie, van ‘n strafskop reg voor die pale wat nie benut is om drie punte aan te teken nie en van ‘n bietjie tekort aan geluk nie. Dit vertel ook nie die verhaal van die dissiplinêre oorwinning wat Florries behaal het nie: Monnas het hulle skuldig gemaak aan geniepsige spel wat dan ook met ‘n geelkaart gestraf is. Daar kon nog geel kaarte uitgedeel word teen Monnas, maar die skeidsregter het besluit dat dit nie goed gaan lyk as Monnas slegs 13 spelers op die veld het nie. Die telling vertel nie die verhaal van die Koos van Vuurenspook wat amper weer vir Monnas geloop het nie. Dit vertel nie die verhaal van verdediging soos tiere nie.
Natuurlik was Monnas met al hulle SA sterre en kapteins, hulle oorweldige meerderheid Cravenweekspelers en onbekroonde sterre die oorweldigende gunstelinge. Suparugby se André Bester vertel van die afskuwelike foute wat Monnas gemaak het, maar vergeet van die spannetjie wat dit veroorsaak het met ‘n meesterstrateeg, Koos Jansen van Vuuren, daaragter. Suparugby gee darem nou ook toe dat Ruhann Kruger sy teenstander oorskadu het en is nou stil oor die (“kwota”) spelers wat liefs deur Monumentare in die Cravenweekspan vervang moes word. Selfs die getrouste Florrie-ondersteuner het nog altyd toegegee dat Monnas ‘n baie goeie span het, maar dieselfde eer kom die “underdog” toe: wie sou kon dink dat Florries hulle kon klop in die NuPower semi-finaal en dat Florries Monnas vandag kon skrik maak soos hulle het.
• Glo jy my nou dat die niksseggende klug teen Florries se “B-span” op Monnas se veld van nul en gener waarde was en dat dit misbruik is.
• Ek is nie ‘n goeie verloorder nie, maar ek dink tog dat ons vir Florries se 1e span kan gelukwens. En staan die sportmangees direk na die wedstryd nie in skrille kontras met die ongeloofloke fisieke spel nie; ‘n hele paar beenknersende laagvatte is aanskou.
Florries is natuurlik nog met al sy spanne in die Beeldtrofeewedloop. Die voordeel wat vandag se wenners het, is dat hulle regstreeks tot die kwarteindstryd deurdring. Is dit moontlik dat die 1e spanne vir ‘n vierde keer hierdie seisoen gaan ontmoet?
























