DIE GESKIEDENIS EN BEGINJARE VAN HOËRSKOOL FLORIDA
“ONS DIEN GETROU”
Hoërskool Florida se hoeksteenlegging het op 30 September 1944 plaasgevind en die eerste 356 Florries het in 1946 amptelik hier begin skoolgaan.
Die skool was aanvanklik ‘n dubbelmedium skool. Daar was slegs vyftien personeellede en mnr B.G. Lindeque was die eerste skoolhoof.
In 1955 word Afrikaans amptelik die medium van onderrig by Hoërskool Florida. Die leerlingtal het toe reeds na 635 vermeerder en daar was 28 personeellede. Dr Hendrik P. van Coller is in Julie 1954 as die tweede skoolhoof aangestel.
Die Hendrik van Coller-skoolsaal is in 1958 deur mnr B.G. Lindeque, wat toe ‘n inspekteur van onderwys was, onthul. Die skoolsaal is in 1994 aansienlik vergroot om aan die groeiende aantal leerders te voldoen.
Die huidige pawiljoen is in die middel sewentigerjare opgerig en ook na ‘n onderwyser, mnr Henry Clarke vernoem.
Die skoollied is in 1961 deur mnr Bart Viljoen,’n onderwyser, geskryf en getoonset.
Die nou bekende “Mc Donalds-hek” of M-hek het aanvanklik bekend gestaan as “Die poorte na die Hoërskool” en is in 1951 deur mnr Hennie Kruger, die kunsonderwyser, ontwerp. Die bouwerk is deur mnr Charles Grevelink, ‘n onderwyser en later adjunkhoof gedoen. Die G-gebou is ook na hom vernoem.
Die blokke waar die Florries soggens vir opening bymekaarkom is in 1953 deur twee onderwysers, mnre Brelage en Grevelink, uitgelê.
Die skoolwapen is deur H Potgieter ontwerp. Die arend (wat geneem is uit die destydse Transvaalse wapen) simboliseer krag, die jukskei diensbaarheid, die skild beskerming en die koringgerwe is simbolies van die oes op arbeid. Die roos in die middel herinner aan die belangrikheid van die liefde. Die skool se eerste leuse was dan ook “Amor Omnia Vincet” wat beteken die liefde oorwin alles. Mnr. Lindeque was baie lief vir rose en die skool het op ‘n stadium met ‘n roostuin van meer as ‘n duisend roosstruike gespog. Elke leerder het sy eie roosstruik gehad wat hy of sy self moes versorg.
Die palmbome, wat so eie is aan Hoërskool Florida is reeds in die vyftigerjare geplant.
Die wawiel-area voor die administratiewe gebou is spesifiek in hierdie vorm uitgelê omdat dit die ontwikkeling van die Afrikaner simboliseer.
Die huishoudkundegebou is na mnr Lorrie Raath ‘n Engelse onderwyser verbonde aan die skool, vernoem. Mnr Raath het ook die skool se kadetorkes gelei en die orkes is in 1955 as die beste skoolorkes aangewys.
Mnr P.D.A. Roux word in 1968 as derde skoolhoof aangestel en het die skool tot nuwe hoogtes gelei.
Die musieksentrum is in Maart 1971 ingewy en het onder leiding van mee Barbara van Wyk en Eunice Botha oor die jare menige musikante help vorm en slyp. Die musieksentrum funskioneer vanaf 2004 onafhanklik van die staat.
‘n Gemeenskapsimpfonie-orkes het in 2014 vanuit hierdie hoogstaande musieksentrum ontstaan.
Me Thea Dewes, geskiedenisonderwyser en destydse adjunkhoof het ons huidige erekode in 1983 geskryf.
Mnr. Hennie Diedericks is in Januarie 1990 as die vierde skoolhoof aangestel. In Januarie 1992 word Hoërskool Florida een van die eerste skole aan die Wesrand om Model-C status te verwerf.
In Januarie 1993 neem mnr. Klaus König die leisels oor en lei die skool na nog selfs groter hoogtes.
Mnr P.G.P. Beukes, voorsitter van die beheerliggaam, open op 23 Mei 1994 die Florries se eerste rekenaarsentrum.
Vanaf 1997 is mnr. Marthinus Schutte aan stuur van sake by Hoërskool Florida. Verskeie nuwe ontwikkelings vind tot in 2016 met sy aftrede plaas:
- Die nuwe hotelskool word in 2000 ingewy.
- ‘n Splinternuwe administratiewe gebou word in 2012 gebou en die
- gimnasiumkompleks en klubhuis word in 2104 opgerig.
Die enigste en grootste binnenshuise skietbaan in Suid-Afrika, die 2de grootste in Afrika, word in 2013 voltooi en opgerig. Me. Annerien Snyman en mnr. Adriaan Snyman het met die hulp van ouers hierdie droom laat realiseer.
Mnr. Schutte se dienstydperk is ook gekenmerk deur puik akademiese uitslae. Die Florries behaal ‘n eerste en tweede nasionale plek en vyf provinsiale wenners.
Op 1 Februarie 2017 sluit die huidige hoof, mnr. Julius Katzke, by ons aan. Sy positiewe invloed is op verskeie vlakke sigbaar. Hoërskool Florida se onderwysers het nou almal toegang tot Wi-Fi en byna alle klasse is toegerus met dataprojektors. Tydens 2021 word ook die dataprojektors een-vir-een met elektroniese borde vervang.
Die skoolterrein en -geboue lyk splinternuut na vele opknappings en verbeterings. RENICO, o.l.v. Nico Louw ‘n oud-Florrie, het gesorg vir die meeste van die verbeterings aan die saal, klaskamers, hotelskool, netbalgebou en -velde.
Dramatiese kunste spog nou ook met ‘n pragtige kleinteater, die RENICO-teater.
Die Hokkieklubhuis verrys in 2019 met nuwe boutegnieke deur RENICO.
Vanaf 2021 spog Hoërskool Florida met Radio Florries wat ook ‘n filmskool insluit. Florries kan nou elke pouse luister na Radio Florries se uitsending.
Splinternuwe tradisies is in 2022 gestig. Ons graad 8-leerders het die geleentheid gekry om Januarie deur die bekende palmbome te stap waar hulle dan elkeen ‘n Florrie baadjie ontvang. Die matrieks loop ook na afloop van hulle laaste saalbyeenkoms deur dieselfde palmbome waar hulle deur die hoof en onderwysers vir die laaste keer gegroet word.
Tegnologiese vernuwing het in 2022 plaasgevind toe ‘n boorgat-waterstelsel op die gronde van Hoërskool Florida geïnstalleer is. Sonpanele is ook opgerig om by te dra tot volhoubare energie vir ons skool se toekoms. In die klaskamers is vernuwing ook toegepas toe 29 nuwe interaktiewe witborde geïnstalleer.
Tydens 2023 word sonpanele geïnstalleer om voorsiening te maak dat alle klasse elektrisiteit het tydens beurtkrag. Die netbalbane word oor gedoen, twee nuwe netbalbane word bygevoeg en ligte Hoërskool Florida huisves die DSTV Netbaltoernooi suksesvol op ons splinternuwe bane.
Hoërskool Florida is ‘n reus op die Wesrand en gaan steeds van krag tot krag. Verskeie presteerders is reeds op baie terreine opgelewer:
Prestasies
Ons Trots
FLORIDA SE HOËRSKOOLLIED
Die skool kry in 1949 sy eerste skoollied, wat gedig en getoonset is deur J.C. van Eyssen.
In 1961 kry die skool ‘n nuwe skoollied, geskryf en getoonset deur mnr. Bart Viljoen, ‘n onderwyser verbonde aan die skool.
Dieselfde skoollied weergalm steeds wanneer dit uit volle bors gesing word.
Skoollied
In die blomme stad van Suid-Afrika.
Op die dak van die ou Transvaal.
Word daar troue bande saam gesmee in ons eie hoërskool.
Ons dien getrou ‘n nasie te bou.
In ons moedertaal die vaandel hoog te hou.
Vlug soos die arend met die daadkrag van ‘n span.
Dien ons saam ons naaste, tot eer van Sy naam.
Florida, ons sal jou naam in ere dra.
Ons dien, ons dien getrou!
– Bart Viljoen 1961 (Onderwyser)
Skoolwapen
In 1954 het ons ‘n skoolwapen gekry. Dit is ontwerp deur H. Potgieter wat die reliëfwerke in die Voortrekkermonument gedoen het.
Die arend simboliseer krag, die jukskei diensbaarheid, die gerwe oes op die arbeid, die skild beskerming en die roos in die middel herinner aan die liefde, asook aan die nagedagtenis van ons eerste skoolhoof wat so lief vir rose was.
Die Arend is geneem van die Transvaalse wapen en die jukskei uit die ossewa-tydperk. Dit bind ons dan aan ons Afrikanererfenis.
Dan ons leuse helder-klinkend: “ONS DIEN GETROU.”